Die Afrikaans vir funds is fondse of gewoon geld: Daar is geen geld [NIE: fondse] vir die projek nie. Gewoonlik word geld gestort of inbetaal in ʼn fonds wat met ʼn spesiale doel gestig [NIE: in die lewe geroep] is, soos in ʼn siekefonds of ʼn Kersfonds.
Soms gaan dit ook om ʼn begroting of geldmiddele: die weermag se begroting [NIE: fondse] is erg besnoei. Geld [NIE: fondse] word bewillig, gegee, geskenk of voorgeskiet vir bv. ʼn projek, of die projek word gefinansier of gesubsidieer deur dit geldelik te steun of van kapitaal te voorsien [NIE: befonds].
Die selfstandige naamwoorde in dié verband is finansiering of subsidiëring [NIE: befondsing].
ʼn Vonds is iets wat gevind is of ʼn ontdekking wat gedoen is; die meervoud is vondste [NIE: vondse].