Oriëntasie:
Die gravisteken (`) word in Afrikaans net op vokaalletters geplaas.
1) Die gravisteken word in enkele algemeen gebruiklike Afrikaanse woorde gebruik om die uitspraak [ε] van die letter e aan te dui.
appèl, dè, hè, nè
Opmerking: Hoewel dié vier woorde tradisioneel die enigste tipies Afrikaanse woorde is wat altyd met ʼn gravisteken gespel word, staan dit ʼn gebruiker vry om ʼn gravisteken te gebruik om, soos by appel teenoor appèl, te onderskei tussen gesel en gesèl, kartel en kartèl, en dergelike.
2) Die gravisteken word gebruik in woorde van vreemde herkoms in hulle oorspronklike spelvorm.
barrière, crèche, pietà of piëta, première, vis-àvis
Opmerking: Sommige leenwoorde word met die akuutteken (´) en sommige met die gravisteken geskryf omdat daar gehou word by die spelvorm van die taal waaraan die woord ontleen is.
3) Die gravisteken word gebruik in sommige eiename van vreemde (hoofsaaklik Franse) herkoms in hulle oorspronklike spelvorm.
Adèle, Eugène
Pietà (die beeldhouwerk)
Opmerking: Die akuutteken word soms in kombinasie met die gravisteken gebruik, byvoorbeeld Hélène, Thérèse. Sommige van dié eiename word met die akuutteken en sommige met die gravisteken geskryf omdat daar gehou word by die spelvorm van die taal waaraan hulle ontleen is.
Dié inligting is oorspronklik gepubliseer in die nuwe Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (11de omvattend herbewerkte uitgawe)
Uitgewer: Pharos
Prys: R450-00*
Koop die boek nou by Graffiti Boeke vir slegs R360-00*
*Prys onderhewig aan verandering