Quantcast
Channel: Taalgebruik | Maroela Media
Viewing all 411 articles
Browse latest View live

Taalgebruik: Alledaags of daagliks?

$
0
0

Argieffoto Foto: fistfuloftalent.com

Argieffoto Foto: fistfuloftalent.com

Talle gebruikers van Afrikaans struikel soms oor die verskil tussen die woorde “alledaags” en “daagliks”.

alledaags: (Eng: commonplace) die teenoorgestelde van buitengewoon en soms word dit ietwat neerhalend gebruik. OOK: Baie gewoon; wat amper elke dag voorkom: ʼn Alledaagse voorval; alledaagsheid

daagliks: (Eng: day to day) daagliks slaan op iets wat elke dag gebeur; (b.nw.) Vir elke dag, wat elke dag terugkeer: My daaglikse wandeling. (bw.) Op iedere dag, elke dag: Ons doen dit daagliks.


Taalgebruik: spervuur of kruisvuur?

$
0
0
Argieffoto (Foto: imgkid.com)

Argieffoto (Foto: imgkid.com)

Wanneer jy jou in die middel van ʼn skietery uit alle rigtings bevind, is jy letterlik in die kruisvuur, soos ʼn kind wat in die kruisvuur van bendes gewond is.

Spervuur word gebruik in verband met troepe wat te staan kom voor ʼn “curtain of fire” – hewige geweer- of kanonvuur wat hulle in hul spore stuit.

Figuurlik kan albei gebruik word, maar oorweeg gerus kruisvuur waar dit toepasliker is as spervuur.

ʼn Mens kan jou moontlik vasloop in of te staan kom voor die hewige spervuur van kritici, maar jou midde-in hewige kruisvuur bevind as jy van alle kante met vrae en kritiek bestook word.

Hierdie brokkie is gepubliseer in die boek: Skryf Afrikaans van A tot Z
Uitgewer: Pharos
Prys: R350-00*
* Prys onderhewig aan verandering

Taalgebruik: aanskoulik of skouspelagtig?

$
0
0
Skouspelagtige foto van weerlig in Johannesburg deur Alexius van der Westhuizen, Greatstock/Barcroft Media. Alexius het 'n paar foto's van die weerlig gebruik en hierdie kunswerk saamgestel. Meer besonderhede in die artikel.

Skouspelagtige foto van weerlig in Johannesburg deur Alexius van der Westhuizen, Greatstock/Barcroft Media. Alexius het ‘n paar foto’s van die weerlig gebruik en hierdie kunswerk saamgestel. Meer besonderhede in die artikel.

Talle gebruikers van Afrikaans struikel soms oor die betekenisverskil tussen “aanskoulik” en “skouspelagtig”.

Aanskoulik beteken “op so ‘n wyse dat ‘n mens jou dit duidelik kan voorstel”, bv. ‘n aanskoulike verslag van ‘n wedstryd of ‘n aanskoulike tekening [NIE: aanskoulike natuurskoon].

Skouspelagtig slaan op iets buitengewoons wat ‘n grootse indruk maak, maar moet dit nie vir iets minder indrukwekkends gebruik nie.

Meegaande foto is ‘n goeie voorbeeld van iets skouspelagtig. Alexius van der Westhuizen het ‘n paar foto’s van weerlig in Johannesburg geneem en hierdie kunswerk saamgestel. Klik hier om meer te lees.

Hierdie brokkie is gepubliseer in die boek: Skryf Afrikaans van A tot Z
Uitgewer: Pharos
Prys: R350-00*
* Prys onderhewig aan verandering

Taalgebruik: inteendeel

$
0
0
Argieffoto

Argieffoto

Woord:
inteendeel

Betekenis:
In teenstelling met; daarteenoor, daarenteen: Hy is glad nie lui nie; inteendeel, hy is baie fluks. Hom verag! Nee, ek bewonder hom inteendeel. Dit was nie ‘n koue winter nie; inteendeel, dit was amper soos somer.

Verkeerde gebruik:
Inteendeel word soms foutiewelik gebruik waar geen werklike teenstelling bedoel word nie, slegs iets soos “andersheid”, bv. die vrugte is lekker soet; inteendeel, dit is sommer baie soet; hy het nie op die afgesproke tyd opgedaag nie maar inteendeel twee uur later. In baie van hierdie gevalle kan trouens eerder gebruik word.

Taalgebruik: gesag of ontsag?

$
0
0
Argieffoto (Pixabay)

Argieffoto (Pixabay)

Talle gebruikers van Afrikaans is soms onseker oor die verskil tussen “gesag” en “ontsag”.

Jy verneem iets op goeie gesag, uit ‘n gesaghebbende bron of by ‘n ingeligte.
‘n Mens behoort ontsag (dit wil sê eerbied en respek) vir byvoorbeeld jou baas te hê.

Iemand dwing ontsag af [NIE: gesag; laasgenoemde slaan op aansien, invloed of mag; ‘n mens word daarmee beklee en jy kan dit nie afdwing nie]

Hierdie brokkie is gepubliseer in die boek: Skryf Afrikaans van A tot Z
Uitgewer: Pharos
Prys: R350-00*
* Prys onderhewig aan verandering

Taalgebruik: nou of smal?

$
0
0
Smal straatjie Foto: Ryan McGuire (Pixabay)

Smal straatjie Foto: Ryan McGuire (Pixabay)

Talle gebruikers van Afrikaans sukkel soms met die betekenisverskil tussen “nou” en “smal”.

‘n Nou rok, mou of pyp, waar dit gaan om ‘n ingeslote ruimte of iets wat wande het, maar in die geval van ‘n oppervlak: ‘n smal straat.

Net so:
Breed slaan op die oppervlak van byvoorbeeld ‘n straat, tafel, rivier of ‘n hoed se rand, en wyd op die ruimte wat ingeslote is of wande het: ‘n wye mou, romp, pyp, kloof of opening.

Dus: nou x wyd en smal x breed

Hierdie brokkie is gepubliseer in die boek: Skryf Afrikaans van A tot Z
Uitgewer: Pharos
Prys: R350-00*
* Prys onderhewig aan verandering

Taalgebruik: na, ná, nadat

$
0
0
Argieffoto

Argieffoto

Na (sonder ‘n akuut) dui op rigting: Ek stap na die kafee (dit wil sê in die rigting van die kafee) en tot by die kafee (die eindpunt), of ek gaan kafee toe of gaan na die kafee (toe).

(met die akuut) dui tyd aan en word deur ‘n selfstandige naamwoord of frase sonder ‘n werkwoord gevolg: Dit het begin reën toe hy ná die wedstryd of ná die bywoning van die wedstryd huis toe geloop het.

Nadat word gevolg deur ‘n bysin (met ‘n werkwoord): Nadat hy die wedstryd bygewoon het, het hy huis toe gestap.

Terloops: Dieselfde geld vir voor/voordat en tot/totdat, behalwe dat voor en tot nie beklemtoon word nie.
LET WEL: In die uitdrukking ná afloop van is daar wel ‘n aksent op (sien Pharos se tweetalige woordeboek).

Hierdie brokkie is gepubliseer in die boek: Skryf Afrikaans van A tot Z
Uitgewer: Pharos
Prys: R350-00*
* Prys onderhewig aan verandering

Taalgebruik: Kweek, groei of teel?

$
0
0
Argieffoto (Ryan McGuire, Pixabay)

Argieffoto (Ryan McGuire, Pixabay)

‘n Mens kweek of laat groei ‘n snor [NIE: groei ‘n snor], en ‘n boer kweek of verbou gewasse of boer met byvoorbeeld mielies [NIE: groei gewasse/mielies].

In die reël is kweek op plante van toepassing en teel op diere. Natuurwetenskaplikes maak egter ‘n uitsondering of twee op dié reël. in die geval van dierlike materiaal kweek [NIE: teel] hulle kulture uit selle, organismes of bakterieë. En in die geval van plante teel hulle nuwe kultivars [NIE: kweek].

Soms sê mense verkeedelik “iets groei op jou” na die Engels, the habit grows on one”. In Afrikaans sê ons egter iets word ‘n vaste gewoonte, die gewoonte kry al hoe meer vat of raak ingewortel, jy hou al hoe meer daarvan of raak verknog daaraan.

Hierdie brokkie is gepubliseer in die boek: Skryf Afrikaans van A tot Z
Uitgewer: Pharos
Prys: R350-00*
* Prys onderhewig aan verandering


Taalgebruik: oorboord

$
0
0
Argieffoto (Foto: whoefle, Pixabay)

Argieffoto (Foto: whoefle, Pixabay)

Talle gebruikers van Afrikaans sukkel soms met die gebruik van die woord “oorboord” (Engels: overboard)

fall/go overboard (letterlik): oorboord val of oorboord gespoel word
go overboard (figuurlik): op loop sit/gaan met, die kluts kwytraak, iets oordryf
throw everything overboard (figuurlik): alles oorboord gooi, laat vaar of daarvan afsien

Hierdie interessante brokkie is aan Maroela Media se Taaltoffie verskaf deur die Woordeboek van die Afrikaanse Taal.

Taalgebruik: half, halwe, helfte

$
0
0
Argieffoto (Foto: uroburos, Pixabay)

Argieffoto (Foto: uroburos, Pixabay)

Talle gebruikers van Afrikaans struikel soms met die gebruik van die woorde “half”, “halwe” en “helfte”. Taaltoffie stel ondersoek in.

skryf anderhalf maand, een en ʼn halwe maand of ʼn maand en ʼn half, maar ná twee of meer + ʼn breuk by voorkeur die meervoud: 2½ of twee en ʼn half minute/weke/maande. In die geval van desimale breuke word slegs die meervoud gebruik: ʼn gemiddelde tydperk van 3,5 maande. Hierdie riglyne geld nié vir byvoorbeeld keer, uur en jaar, wat normaalweg saam met ʼn hooftelwoord in die enkelvoud gebruik word: drie keer, ses uur en sewe jaar, dus ook 3½ keer, 31½ uur en 7½ jaar.

As jy ʼn lemoen middeldeur [NIE: in die helfte] sny of deursny, kan jy vir iemand die helfte gee en jy het dus ʼn halwe lemoen oor.

Die student het sedert die middel [NIE: die helfte] van die jaar hard gewerk en dus in die tweede helfte (laaste ses maande) goed gevaar.

Uit Engels:
a half-baked (letterlik) halfgaar; (figuurlik) onbekook, ondeurdag of onwys [NIE: halfgebak]
half-brother, half-sister ʼn halfbroer en halfsuster het een gemeenskaplike ouer; ʼn stiefbroer en stiefsuster is die kinders van ʼn stiefma/=pa en is dus nie bloedfamilie nie.
be half-hearted aarselend, bangerig, huiwerig, onhartlik of weifelend wees [EERDER AS: halfhartig]
half-line die middellyn (van byvoorbeeld ʼn rugbyveld)
half-mast (die landsvlag hang) halfstok [NIE: halfmas] (as teken van rou)
half-time rustyd
reach the half-way mark die halfwegmerk/=punt bereik of halfpad wees

Hierdie brokkie is gepubliseer in die boek: Skryf Afrikaans van A tot Z
Uitgewer: Pharos
Prys: R350-00*
* Prys onderhewig aan verandering

Taalgebruik: gewig

$
0
0
Argieffoto (Foto: mojzagrebinfo, Pixabay)

Argieffoto (Foto: mojzagrebinfo, Pixabay)

Gebruikers van Afrikaans struikel soms met die gebruik van verskillende terminologie wanneer daar na gewig of massa verwys word.

Iemand werp of gooi sy gewig agter/by iemand in, of span (al) sy kragte in vir iets.

Jy sit gewig aan [NIE: tel gewig op], verloor gewig of verslank, of jy word vet of maer.

Die gewig van iets is 10 kg; gebruik massa in ʼn tegniese of wetenskaplike konteks.

carry weight iemand se mening het gesag/gewig/invloed, jy self heg baie gewig aan iets, of iet dra baie gewig by jou

Hierdie brokkie is gepubliseer in die boek: Skryf Afrikaans van A tot Z
Uitgewer: Pharos
Prys: R350-00*
* Prys onderhewig aan verandering

Taalgebruik: Van toeka tot nou

$
0
0
Argieffoto Foto: nile, Pixabay

Argieffoto Foto: nile, Pixabay

Destyds en toentertyd (wat letterlik beteken “in daardie tyd”) word albei gebruik nadat na ʼn bepaalde tyd in die verlede of ʼn vooraf gemelde tyd verwys is, maar toentertyd is minder formeel.

Wanneer dit oor ʼn onbepaalde tyd in die verlede gaan, kan indertyd, vantevore of vroeër gebruik word. Dus kan nie van die destydse Joego-Slawië of premier gepraat word as geen tydperk genoem is nie, maar wel van die voormalige, eertydse, gewese, toenmalige [NIE: toentertydse] of vorige Joego-Slawiese premier, of die oudpremier van Joego-Slawië.

Toeka verwys na ʼn tyd baie lank gelede.

Nou Saterdag is korter as eerskomende Saterdag, maar baie informeel.

for now vir eers [EERDER AS: vereers] of voorlopig [NIE: vir nou]
now and then nou en dan, af en toe, van tyd tot tyd
now for (en) nou [NIE: nou vir], bv. die nuus, All Blacks, ens.

tydperk Sake het in die (tienjaar)tydperk baie verander of die projek het oor ʼn tydperk verander. Tydperk word soms onnodig gebruik: Tien jaar lank is geen ontwikkeling toegelaat nie [NIE: vir ʼn tydperk van tien jaar is geen ontwikkeling toegelaat nie – vir is hier verkeerdelik gebruik, want dit gaan om ʼn tydsverloop wat nie met vir aangedui word nie]. Tydperk kan ook op ʼn prehistoriese tyd slaan: die Steentyd(perk).

era Era is ʼn tydperk in die geskiedenis; die apartheidsera of die era van die stoomtrein.

Taalgebruik: Mooiweer of mooi weer?

$
0
0
Argieffoto (Foto: werner22brigitte, Pixabay)

Argieffoto (Foto: werner22brigitte, Pixabay)

Mooiweer (een woord) is deel van die uitdrukking mooiweer speel met iemand se goed (vriendelik wees teenoor iemand ter wille van eie voordeel, soos in mooiweersvriend).

(Dit is) mooi weer (twee woorde) slaan op aangename, sonnige of lekker weer (dit lyk nie of dit gaan reën nie): Môre sal dit mooi weer en warm wees.

Daarteenoor beteken die weer is mooi (“belowend”) in sommige streke van die land dat dit lyk na reën.

Hierdie brokkie is gepubliseer in die boek: Skryf Afrikaans van A tot Z
Uitgewer: Pharos
Prys: R350-00*
* Prys onderhewig aan verandering

Taalgebruik: statistiek of statistieke?

$
0
0

Die Afrikaans vir statistics is statistiek of statistieke, wat verskillende betekenisse het.

kinders_wiskunde.jpg

Foto: imgarcade.com

Die enkelvoud statistiek is die wetenskap/metode waarvolgens gegewens/getalle/syfers oor ʼn lang tydperk georden en daarna in statistieke (getalle of syfers) uitgedruk word: Die dosent in die statistiek het gesê volgens die jongste statistieke styg die temperatuur op die aarde.

Syfer is ook die teken waarmee ʼn getal aangedui word, soos 2, maar word soms sinoniem met getal en statistieke gebruik: sterftesyfer, dodetal, studente(ge)talle.

Aantal verwys na ʼn onbepaalde hoeveelheid: ʼn Groot aantal (of baie) mense het op die vakansiedag na die strande gestroom. Getal slaan op ʼn bepaalde hoeveelheid wat getel is of getel kan word: Die getal toeriste wat maandeliks die stad besoek, neem toe, of; die getal besoekers (besoekerstal) kom op 30 000 te staan.

Taalgebruik: pasop of pas op?

$
0
0
Argieffoto (Foto: geralt, Pixabay)

Argieffoto (Foto: geralt, Pixabay)

Taaltoffie ondersoek die verskillende gebruike van die woorde “pasop”, “pas op” en “oppas”.

Die werkwoorde pasop en oppas (albei een woord) word gewoonlik saam met ʼn hulpwerkwoord gebruik: Jy moet pasop/oppas (“toesien”) dat jy nie laat kom nie. Gebruik pas op (twee woorde) vir ʼn bevel of uitroep: Pas op vir die slang!

keer Iemand keer (voorkom/verhinder/verhoed) dat iets gebeur [NIE: keer dat dit gebeur nie, wat die teenoorgestelde van die bedoeling is].

waak Motoriste moet daarteen waak om te vinnig te ry [NIE: om nie te vinnig te ry nie].

verhinder x verhoed x voorkom Verhinder het dieselfde betekenis as voorkom  en keer, en kan saam met om te en dat gebruik word: Die polisie is verhinder om die verdagte in hegtenis te neem; Jy moet verhinder… Verhoed, voorkom en keer word met dat gebruik. Soos voorkom en keer word verhinder in neurale sin gebruik. Verhoed word gebruik wanneer iets verskrikliks, soos ʼn ramp of ʼn ongeluk, afgeweer of voorkom word. Al dié werkwoorde word nie met nie gebruik nie: Jy moet verhinder/voorkom dat sy haar belaglik maak [NIE: nie belaglike maak nie]. Voorkom (met die klem op voor=) het die betekenisse “lyk” en “aangetref/gevind word”: Dit wil voorkom asof/of hierdie spesies net op die Hoëveld voorkom.


Taalgebruik: soek, opsoek, deursoek

$
0
0
Argieffoto (Foto: nightowl, Pixabay)

Argieffoto (Foto: nightowl, Pixabay)

Taaltoffie stel ondersoek in oor die gebruik van die woorde soek, deursoek en opsoek.

Jy soek iets of jy soek daarna [NIE: soek daarvoor]. Die polisie soek die inbreker [EERDER AS: is op soek na].

seek dit kan nie voor die voet met soek vertaal word nie: Albei lande strewe die einde van die oorlog na [NIE: soek vrede] of albei wil ʼn einde aan die oorlog maak

Jy deursoek (figuurlik) jou hart (verlede tyd: het jou hart deursoek), en die polisie soek die huis deur of deursoek die huis na dwelms (verlede tyd: het die huis deurgesoek/deursoek, of gefynkam) en soek die rekenaarlêers deur na inligting. Die inwoners is gevisenteer of deurgesoek.

opsoek
1 Deur te soek probeer opspoor: Iets in ʼn woordeboek opsoek.
2 ʼn Besoek bring; kuier: Ek kom jou opsoek by julle nuwe woonplek by die see. Iemand se geselskap opsoek.
3 Kies as plek om die tyd te verwyl: Die koelte, skaduwee opsoek

Hierdie brokkie is gepubliseer in die boek: Skryf Afrikaans van A tot Z
Uitgewer: Pharos
Prys: R350-00*
* Prys onderhewig aan verandering

Taalgebruik: proe of smaak?

$
0
0
Argieffoto (Foto: Public Domain Pictures, Pixabay)

Argieffoto (Foto: Public Domain Pictures, Pixabay)

Die Engelse werkwoord taste is in Afrikaans proe in die sin ek proe iets, en smaak in die sin iets smaak lekker, maar die kos proe heerlik is al so ingeburger dat proe maar soms as sinoniem vir smaak toegelaat kan word, solank dit nie smaak verdring nie. Proe is ietwat meer gemoedelik en informeel.

tasty smaaklik: iets het ‘n lekker smaak
tasteful smaakvol (wat “elegant” of “met ‘n kunssin” beteken): Die vrou is smaakvol geklee, en haar huis is ewe smaakvol gemeubileer
in good taste dit getuig/spreek van goeie smaak, dit is goeie smaak en is met goeie smaak of smaakvol aangebied. Die teenoorgestelde is smakeloos [NIE: dit is in slegte/swak smaak]

Hierdie brokkie is gepubliseer in die boek: Skryf Afrikaans van A tot Z
Uitgewer: Pharos
Prys: R425-00*
* Prys onderhewig aan verandering

Taalgebruik: probleem

$
0
0
Argieffoto

Argieffoto

ʼn Probleem/vraagstuk word aangepak [NIE: aangespreek] of geniet/kry aandag of jy gee aandag daaraan en dit word opgelos.

cause problems hoofbrekens/=brekings gee/besorg
have a problem with bedenkings hê oor of besware hê teen [NIE: ʼn probleem hê met]
have problems probleme/moeilikheid ondervind of teë=/teenkom [NIE: optel]
have no problem with geen beswaar hê teen iets, geen bedenkings hê oor iets of dit nie moeilik vind nie
the problem is how die vraag is hoe…
that is the problem daar lê die knoop
a situation is problematic ʼn situasie is moeilik of lastig [NIE: problematies]

Hierdie brokkie is gepubliseer in die boek: Skryf Afrikaans van A tot Z
Uitgewer: Pharos
Prys: R425-00*
* Prys onderhewig aan verandering

Taalgebruik: ban, verban en verbied

$
0
0
Argieffoto Foto: stevepb, Pixabay

Argieffoto Foto: stevepb, Pixabay

Gebruikers van Afrikaans struikel soms oor die verskil tussen ban, verban en verbied.

Die werkwoord ban beteken “uitsluit”: ʼn Mens ban iets uit jou gedagtes. Die uitdrukking in die ban doen is ʼn kerklike begrip wanneer iemand geëkskommunikeer word (deurdat sy lidmaatskap van die kerk opgehef word), maar dit word ook wyer gebruik in die sin van ʼn verbod of taboe. Mense kan uit hul land verban word (en is dan ballinge/bannelinge), maar boeke, rook of organisasies word verbied.

unban die verbod op byvoorbeeld ʼn boek of politieke party ophef; ʼn balling word toegelaat om na sy land terug te keer [NIE: ontban]

Taalgebruik: gedenk, herdenk en vier

$
0
0
Argieffoto: www.flickr.com

Argieffoto: www.flickr.com

ʼn Mylpaal word gevier. Jy vier ʼn eeufees, ʼn sestigste verjaarsdag, ʼn vyftigste bestaansjaar of jou goue bruilof.

Herdenk is die viering van ʼn gebeurtenis in die verlede: Die vereniging herdenk sy ontstaan 50 jaar gelede, die dag waarop die oorlog uitgebreek het, vrede gesluit is of die aankoms van die volksplanter.

Die tydperk tussen die ontstaan/begin en die hede word gedenk: die vyftigjarige bestaan van die gemeente word gedenk met ʼn gedenkboek/gedenkfees, of ʼn mens/mense of gebeurtenis word met ʼn gedenk=/herdenkingsdiens herdenk

Verjaar(s)dag Die kan met of sonder die verbindings-s geskryf word; wees net konsekwent in dieselfde stuk werk. Iemand vier/gedenk sy verjaar(s)dag, maar herdenk sy geboortedag. Jy wens iemand geluk met sy verjaar(s)dag, maar op sy verjaar(s)dag (die betrokke dag).

Viewing all 411 articles
Browse latest View live