Quantcast
Channel: Taalgebruik | Maroela Media
Viewing all 411 articles
Browse latest View live

Taalgebruik: roes, verroes

$
0
0

Argieffoto (Foto: danielsfotowelt, Pixabay)

ʼn Plaat roes op [NIE: weg]
Spykers wat geroes het, is verroes (dus: verroeste spykers
Kennis kan ook verroes wees

1 roes
selfstandige naamwoord [geen meervoud]
1 rooibruin/bruingeel bedekking wat deur oksidering (verbinding met suurstof) ontstaan op die oppervlak van yster/staal, veral in ’n vogtige omgewing: ’n dik laag roes op die rame van ’n strandhuis • roes aan jou motor/diefwering/heining.
2 (botanie) plantsiekte veroorsaak deur swamme en gekenmerk deur rooibruin vratjies op blare/stingels: roes in koring.
3 (figuurlik) verkwister; deurbringer: ’n roes op iets wees iets op ’n ruwe/onoordeelkundige wyse hanteer; iets (gou) verniel: Die kind is ’n roes op klere.

werkwoord [het geroes]
1 met roes bedek raak; roes vorm: Die rame roes gou; Goud roes nie.
2 (a) (figuurlik) slyt: Ware liefde roes nie.

2 roes

selfstandige naamwoord [geen meervoud]
1 bedwelming deur sterk drank: jou/’n roes uitslaap.
2 (figuurlik) opgewonde toestand; bedwelming van die sinne deur opwinding/vreugde/oorspanning/ens.: in ’n roes van blydskap wees • die roes van jong verliefdes • In die eerste roes van die oorwinning het die soldate sommer ook op die burgerlikes begin skiet.

verroes
werkwoord [het verroes]
1 met roes bedek; deur roes weggevreet word; vasroes: Die slot verroes.
2 (figuurlik) aan ou gewoontes/tradisies vaskleef; traag van gees word: Die oubaas is nou besig om te verroes.

byvoeglike naamwoord, bywoord [verroeste]
1 met roes bedek; deur roes weggevreet: verroeste diefwering/pype/sinkplate/spykers; ’n verroeste hek.
2 (figuurlik) wat iets nie meer so goed (kan) doen as tevore nie, omdat hy/sy dit lank laas gedoen het: My Duits is verroes.
3 (figuurlik) wat aan ou gewoontes/tradisies vaskleef: ’n verroeste politikus; verroes wees in jou opvattings.

Bron:
VivA Aanlyn

en

Skryf Afrikaans van A tot Z
Uitgewer: Pharos
Prys: R450-00*
* Prys onderhewig aan verandering


Taalgebruik: hoop

$
0
0

Argieffoto (Foto: Alexas_Fotos, Pixabay)

Woord:
hoop

Betekenis:
Jy hoop op reën of (op) [NIE: vir] die beste, en jy doen iets op hoop van vrede, in die hoop dat dit tot vrede sal lei, of jy hoop dat dit tot vrede sal lei [NIE: met die hoop]. Let op die woordorde: Ek het die saak bespreek met die voorsitter wat, hoop ek (of: hopelik) [NIE: ek hoop], onbevooroordeeld is.

hopeful signs hoopvolle/bemoedigende tekens
be full of hope vol hoop [NIE: hoopvol] of optimisties wees

1 verwagting; vooruitsig: iemand hoop gee • goeie hoop hê • (die) hoop behou • alle hoop opgee/verloor • alle hoop laat vaar.
2 dit waarvan ’n mens iets goeds verwag; vertroue dat jou verlange/verwagting werklikheid sal word: jou hoop op sukses stel • Dié jong man is Suid-Afrika se hoop om ’n nuwe tenniskampioen op te lewer. ◊ Vir die man wat sonder hoop is, is daar min hoop (C.J. Langenhoven).

Uitdrukkings
die hoop beskaam nie
heel dikwels kry ’n mens waarop jy hoop

op hoop van beter
in die verwagting dat dit beter sal gaan

buite hoop wees
onredbaar/onherstelbaar wees

in die hoop dat …
met die verwagting dat …

tussen hoop en vrees
in onsekerheid

(op) die beste hoop
op ’n goeie afloop vertrou

teen beterwete in hoop
die hoop behou al lyk dinge hopeloos

op beter dae/tye hoop
’n beter toekoms verwag

Bron:
VivA Aanlyn

en

Skryf Afrikaans van A tot Z
Uitgewer: Pharos
Prys: R450-00*
* Prys onderhewig aan verandering

Taalgebruik: mensgemaak, tuisgemaak

$
0
0

Argieffoto (Foto: Pexels, Pixabay)

Damme is mensgemaak en byvoorbeeld ʼn rok is selfgemaak of tuisgemaak [EERDER AS: eiegemaak] (nie gekoop nie) of jy het dit self gemaak.

mensgemaak
Wat deur die mens gemaak is en nie byvoorbeeld op natuurlike wyse ontstaan het nie; soms teenoor natuurlik: Natuurlike en mensgemaakte vesels. ≈ Die grense (van natuurreservate) moet sover moontlik natuurlik wees en nie mensgemaak nie (D. Hey: Lewe, 1977, 63). Die Karibameer is die grootste mensgemaakte meer in die wêreld (Ensiklopedie van die Wêreld 5, 1973, 607). Die dolfyn … kan waarnemings doen wat nie eens op die fynste mensgemaakte toerusting gedoen kan word nie (Vaderland, 8 Desember 1971, 3). Die Kerk (staar) hom soms so blind … op sy eie mensgemaakte dogmas dat hy geneig is om Jesus van Nasaret se eenvoudige boodskap van liefde oor die hoof te sien (F.N. v. Niekerk: Vrymesselary, s.j., 187).

tuisgemaak
op klein skaal in iemand se huis gemaak, nie in ’n fabriek nie; selfgemaak: tuisgemaakte lekkergoed (ook: tuisgebak uit Ouma se kombuis, tuisgebak van die tuisnywerheid)

Taalgebruik: alarm of wekker

$
0
0

Argieffoto (Foto: Alexas_Fotos, Pixabay)

Uit die HAT Taalgids:
Alarm is ’n doodgewone, goeie Afrikaanse woord, maar soms is hy ook ’n valse vriend. Om alarm te maak beteken om ’n noodteken of -sein te gee, byvoorbeeld omdat gevaar dreig.

So byvoorbeeld sal ’n mens sê dat iemand alarm gemaak het toe sy rook uit die plafon sien borrel.

Die alarm kan ook een of ander (harde) geluid of (flitsende) lig wees wat ’n mens waarsku dat gevaar dreig, byvoorbeeld dat daar by jou huis of motor ingebreek word, of dat daar êrens ’n brand uitgebreek het, of dat die vyand aanval.

Waar kom die woord vandaan?
Histories kry ons die woord alarm uit die Romaanse tale, byvoorbeeld Italiaans all’ arme!, Spaans al arma! en Frans à l’arme!, wat telkens die uitroep “neem die wapens op!” is. Dit berus op die Latyn arma “wapens” (vgl. Engels arms = wapentuig). Mettertyd het alarm ook die betekenis aangeneem van die toestel wat die noodsein gee, en daarom sê ’n mens byvoorbeeld dat jy ’n alarm in jou motor of huis laat installeer het.

In Engels word die woord alarm of alarm clock ook gebruik om die toestel of horlosie te benoem wat ’n mens op ’n vooraf gestelde tyd wakker maak deur die een of ander geluid te maak. Dit is in hierdie betekenis dat alarm ’n valse vriend in Afrikaans word, want so ’n toestel of horlosie noem ons ’n wekker, NIE ’n alarm nie. ’n Mens stel jou/die wekker en jou/die wekker gaan af. Die werkwoord wek beteken natuurlik onder meer “om wakker te maak”; die wekker is dus letterlik die wakkermaker.

Woord:
alarm

Betekenis:
alarm [alarms; alarmpie]
1 toestel wat deur ’n geluid waarsku: Toe die alarm afgaan, het die inbreker gevlug. • Hy stel sy horlosie-alarm om hom te help onthou.
2 waarskuwende geluid: alarm maak.
3 skielike vrees deur gevaar veroorsaak; onrus; opskudding: Die slegte nuus het ’n groot alarm veroorsaak.
| vals alarm alarm wanneer daar geen gevaar is nie; situasie waarin mense verkeerdelik dink dat iets slegs gaan gebeur: Die baba makeer niks nie – dit was ’n vals alarm.

Woord:
wekker

Betekenis:
wekker [wekkers, wekkertjie]
1 horlosie/uurwerk wat gestel kan word om op ’n bepaalde tyd ’n slaper wakker te lui: Die meeste mense word elke oggend met ’n wekker wakker.
2 (weinig gebruiklik) iemand wat ’n ander wakker maak.

Taalgebruik: pes of plaag

$
0
0

Argieffoto (Foto: Jeny, Pixabay)

Taaltoffie ondersoek die verskil tussen die gebruik van “pes” en “plaag”

plague pes: ʼn besmetlike siekte by hoofsaaklik diere, soos builepes, longpes en runderpes

pest plaag: diere of insekte, bv. ʼn sprinkaanplaag, wat ʼn groot las is of skade veroorsaak en bestry word deur plaagbestryders

Taalgebruik: Proe of smaak iets lekker?

$
0
0

Argieffoto (Foto: RyanMcGuire, Pixabay)

Die Engelse werkwoord taste is in Afrikaans proe in die sin ek proe iets, en smaak in die sin iets smaak lekker, maar die kos proe heerlik is al so ingeburger dat proe maar soms as sinoniem vir smaak toegelaat kan word, solank dit nie smaak verdring nie. Proe is ietwat meer gemoedelik en informeel.

tasty smaaklik: iets het ‘n lekker smaak
tasteful smaakvol (wat “elegant” of “met ‘n kunssin” beteken): Die vrou is smaakvol geklee, en haar huis is ewe smaakvol gemeubileer
in good taste dit getuig/spreek van goeie smaak, dit is goeie smaak en is met goeie smaak of smaakvol aangebied. Die teenoorgestelde is smakeloos [NIE: dit is in slegte/swak smaak]

Bron: Skryf Afrikaans van A tot Z
Uitgewer: NB Publishers
Prys: R485-00*
* Prys onderhewig aan verandering

Taalgebruik: laas, verlede

$
0
0

Argieffoto (Foto: maxmann, Pixabay)

Laas beteken ongeveer “die laaste keer”: Hy was weke laas op die plaas.

Dit kom ook voor in uitdrukkings soos vir oulaas en op langelaas (“uiteindelik”).

Iets het verlede week/Sondag [EERDER AS: laas week/Sondag] gebeur (in die direkte rede), maar die vorige week of die week tevore (in die indirekte rede)

something is a thing of the past iets behoort tot die verlede, dis geskiedenis of verlede tyd, is afgeloop, afgehandel of verby; dit sal end kry, of bv. ʼn speler het van sy beserings herstel of is weer reg [EERDER AS: dit is iets van die verlede]

1 die laaste keer: Ek was laas daar toe hy so siek was. • Ons het lank laas van hulle gehoor. • vir laas nog ’n bietjie gesels.
2 kort gelede; onlangs: Ons het laas nog lekker by hom gekuier.
3 wat net verby is; verlede: Ek kon laas nag nie slaap nie. • Ek het laas week nog met haar gesels. • In die laaste paar jaar het pryse hemelhoog gestyg.
4 op so ’n wyse dat iets afgesluit word; laaste: Die laas oorgeblewe oudstryder.

OOK lank laas: geruime tyd gelede; vir ’n lang tyd nie: Hy het lanklaas van hom laat hoor. • Dit het lank laas gereën.

verlede
selfstandige naamwoord
1 tyd/jare wat verby is: Bejaardes dink dikwels terug aan die verlede. • Die dinge waarvan jy praat, lê ver in die verlede.

| tot die verlede behoort vir altyd/goed verby wees.

2 wat vroeër gebeur het; geskiedenis: ’n volk se roemryke verlede • die verlede bestudeer • Neem uit die verlede wat goed is.

| iemand se verlede – iemand se vroeëre lewe.
| ’n man/vrou met ’n verlede – iemand wie se vroeëre lewe nie onberispelik was nie.

verlede
byvoeglike naamwoord
wat verby is; laas: verlede week/maand/jaar • Verlede Dinsdag was hy nog hier; vandag begrawe ons hom. • in lank verlede tye • die verlede tyd.

Bron:
VivA Aanlyn

en

Skryf Afrikaans van A tot Z
Uitgewer: Pharos
Prys: R450-00*
* Prys onderhewig aan verandering

Taalgebruik: eendag, een dag

$
0
0

Argieffoto (Foto: RyanMcGuire, Pixabay)

Eendag (een woord) dui op ʼn onbepaalde tyd lank gelede: Eendag was daar ʼn… of in die toekoms: Eendag sal ons dalk nie meer hoef te werk nie.

Daarteenoor: Dit sal net een dag (twee woorde) duur.

once a day een maal per dag of een maal op ʼn dag
once a week/month/year een maal per week/maand/jaar of een maal in ʼn week/maand/jaar

Bron:
Skryf Afrikaans van A tot Z
Uitgewer: Pharos
Prys: R450-00*
* Prys onderhewig aan verandering


Taalgebruik: opklink, weerklink

$
0
0

Argieffoto (Foto: sasint, Pixabay)

Stemme of skote het skielik in die donkerte opgeklink (is gehoor), en het in die leë gebou weerklink (geëggo), of die saal het van die gejuig of uitbundige sang weerklink.

weerklink
’n klank of klanke herhaal; weergalm: Ons stemme het in die leë huis weerklink. Die saal het weerklink van die gehoor se gejuig/applous.

opklink
1 Hoorbaar waarneembaar word of begin word: Daar is ‘n ligte blos op haar wange toe sy verskyn en die applous harder as tevore opklink (E. Spence: Kaleidoskoop, 1970, 6). Hy skrik effens, want hy het nie bedoel dat sy stem so hard moet opklink nie (B. Smit: Een, 1967, 80). Die Westminister-gelui is die een wat elke kwartier opklink, totdat hy op die uur sy volle deuntjie speel (Boerdery S.A., Augustus 1971, 46).
2 Na vore of tot uiting kom: Waarskuwings het uit die koerantopskrifte opgeklink: “Gevaarligte brand vir universiteite … “ (E. Botha in Aambeeld, Herfs 1988, 3). Hier klink ‘n menslike stem op wat in so baie van die ander gedigte gedemp is (H.A. Mulder in D.J. Opperman: Opstelle, 1961, 59).

Taalgebruik: Ellipsteken

$
0
0

Argieffoto (Foto: danymena88, Pixabay)

Die ellipsteken, ook genoem beletselteken, bestaan uit drie stippels (…). Die stippels maak die leser daarop bedag dat daar ʼn lang pouse in die dialoog is, dat ʼn spreker onderbreek word, of dat daar letters, woorde of stukke inligting uit die teks weggelaat is.

Wanneer die ellipsteken ʼn deel van ʼn woord vervang, word dit sonder spasies aan die res van die woord vas geskryf. Wanneer dit egter ʼn hele woord, frase of sin vervang, word dit met ʼn spasie aan weerskante geskryf.

Indien ʼn nuwe sin ná die ellipsteken begin, word die reëls vir die gebruik van hoof- en kleinletters aan sinsbegin gevolg.

Indien daar ʼn leesteken ná die ellipsteken volg, word dit sonder ʼn spasie vas aan die ellipsteken geskryf; daar volg egter nooit ʼn punt ná die ellipsteken nie.

Voorbeelde:
Moenie dit eers oorweeg nie … Moenie my uittart nie!
Nee! … Nee, ek kan nie.
Ek … weet nie eintlik nie.
Dit lyk beslis nie asof sy … enige verweer het nie.
Sy het gedink Sondae is stil dae. Min het sy geweet…
Ek sien jou vanm…, ek bedoel vanaand.
Goeie ge…
Wat de …?
My liewe …!

Dié inligting is oorspronklik gepubliseer in die nuwe Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (11de omvattend herbewerkte uitgawe)
Uitgewer: Pharos
Prys: R450-00*
Koop die boek nou by Graffiti Boeke vir slegs R360-00*
*Prys onderhewig aan verandering

Taalgebruik: ongelooflik, verstommend

$
0
0

Argieffoto

Ongelooflik is ʼn sterk kommentaar-woord wat soos ander sterk byvoeglike naamwoorde en bywoorde spaarsaam gebruik moet word. Vermy dit (bv. ongelooflik mooi/sterk/slim), behalwe wanneer jy ʼn spreker aanhaal.

Gebruik liewer verbasend of verstommend, wat minder sterk is.

Bron:
Skryf Afrikaans van A tot Z
Uitgewer: Pharos
Prys: R450-00*
* Prys onderhewig aan verandering

Taalgebruik: fonds, vonds

$
0
0
finansies-geld-geldwassery

Argieffoto (Foto: Stevepb/Pixabay)

Die Afrikaans vir funds is fondse of gewoon geld: Daar is geen geld [NIE: fondse] vir die projek nie. Gewoonlik word geld gestort of inbetaal in ʼn fonds wat met ʼn spesiale doel gestig [NIE: in die lewe geroep] is, soos in ʼn siekefonds of ʼn Kersfonds.

Soms gaan dit ook om ʼn begroting of geldmiddele: die weermag se begroting [NIE: fondse] is erg besnoei. Geld [NIE: fondse] word bewillig, gegee, geskenk of voorgeskiet vir bv. ʼn projek, of die projek word gefinansier of gesubsidieer deur dit geldelik te steun of van kapitaal te voorsien [NIE: befonds].

Die selfstandige naamwoorde in dié verband is finansiering of subsidiëring [NIE: befondsing].

ʼn Vonds is iets wat gevind is of ʼn ontdekking wat gedoen is; die meervoud is vondste [NIE: vondse].

Taalgebruik: grootte, grote

$
0
0

Argieffoto (Foto: Hans, Pixabay)

Die Afrikaans vir size is grootte, die selfstandige naamwoord grote beteken “die groot een”.

ʼn Skoen van dié grootte of net so ʼn groot skoen.
ʼn Standbeeld is lewensgroot of van lewensgrootte as ook ʼn koningsgroot bed of ʼn bed van koningsgrootte.

grootte
1 [meervoud groottes] afmetings; omvang; uitgebreidheid: die grootte van ’n huis/plaas/stad • Watter grootte rok/hemp/skoen dra jy?
2 [geen meervoud] toestand/hoedanigheid van meer as die normale of gewone afmetings/omvang/uitgestrektheid te besit: ’n stoeier/kantoorgebou/dam wat indrukwekkend is vanweë sy grootte • toeneem in grootte en belangrikheid

grote
1 iets wat groot afmetings het: Ek sal die klein stukkie eet; neem jy die grote. • Die grote het weggekom, sê die vissermanne altyd.
2 volgroeide mens/dier: Die grotes en die kleintjies moet geskei word.
3 belangrike persoon: Alexander die Grote.

Taalgebruik: Gravisteken

$
0
0

Argieffoto

Oriëntasie:
Die gravisteken (`) word in Afrikaans net op vokaalletters geplaas.

1) Die gravisteken word in enkele algemeen gebruiklike Afrikaanse woorde gebruik om die uitspraak [ε] van die letter e aan te dui.

appèl, dè, hè, nè

Opmerking: Hoewel dié vier woorde tradisioneel die enigste tipies Afrikaanse woorde is wat altyd met ʼn gravisteken gespel word, staan dit ʼn gebruiker vry om ʼn gravisteken te gebruik om, soos by appel teenoor appèl, te onderskei tussen gesel en gesèl, kartel en kartèl, en dergelike.

2) Die gravisteken word gebruik in woorde van vreemde herkoms in hulle oorspronklike spelvorm.

barrière, crèche, pietà of piëta, première, vis-àvis

Opmerking: Sommige leenwoorde word met die akuutteken (´) en sommige met die gravisteken geskryf omdat daar gehou word by die spelvorm van die taal waaraan die woord ontleen is.

3) Die gravisteken word gebruik in sommige eiename van vreemde (hoofsaaklik Franse) herkoms in hulle oorspronklike spelvorm.

Adèle, Eugène
Pietà (die beeldhouwerk)

Opmerking: Die akuutteken word soms in kombinasie met die gravisteken gebruik, byvoorbeeld Hélène, Thérèse. Sommige van dié eiename word met die akuutteken en sommige met die gravisteken geskryf omdat daar gehou word by die spelvorm van die taal waaraan hulle ontleen is.

Dié inligting is oorspronklik gepubliseer in die nuwe Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (11de omvattend herbewerkte uitgawe)
Uitgewer: Pharos
Prys: R450-00*
Koop die boek nou by Graffiti Boeke vir slegs R360-00*
*Prys onderhewig aan verandering

Taalgebruik: meer en mees

$
0
0

Argieffoto

meer of -er; mees of -ste
Deelwoorde wat as byvoeglike naamwoorde of bywoorde gebruik word, vorm die vergrotende trap met die bywoord meer, of met die agtervoegsel -er.
* oplettend – meer oplettend of oplettender
* sprankelend – meer sprankelend of sprankelender
* gekompliseerd – meer gekompliseerd of gekompliseerder
* toegewyd – meer toegewyd of toegewyder

Deelwoorde wat as byvoeglike naamwoorde of bywoorde gebruik word, vorm die oortreffende trap met die bywoord mees, of met die agtervoegsel -ste, en word meestal as ʼn frase saam met die bepaalde lidwoord die gebruik.
* oplettend – die mees oplettende of die oplettendste
* sprankelend – die mees sprankelende of die sprankelendste
* gekompliseerd – die mees gekompliseerde of die gekompliseerdste
* toegewyd – die mees toegewyde of die toegewydste

meer en mees
Byvoeglike naamwoorde en bywoorde wat op e eindig, vorm die vergrotende trap met die bywoord meer
* beskonke – meer beskonke
* verleë – meer verleë

Opmerking:
a) Hierdie reël geld slegs by byvoeglike naamwoorde waarvan die grondwoord op e eindig en nie by byvoeglike naamwoorde wat attributief gebruik word en daarom ʼn attributiewe –e gekry het nie. Die byvoeglike naamwoord oulik in die oulike klein hondjie se vergrotende trap is ouliker en nie meer oulik
b) Die vergrotende trap van byvoeglike naamwoorde en bywoorde wat op e eindig, is tradisioneel gevorm met behulp van die agtervoegsel -ner. Gevalle soos ervarener (teenoor die gebruikliker meer ervare) en onvolwassener (teenoor die gebruikliker meer onvolwasse), moet daarom nie as ʼn fout beskou word nie.

Byvoeglike naamwoorde en bywoorde wat op e eindig, vorm die oortreffende trap met behulp van die bywoord mees, en word meestal as ʼn frase saam met die bepaalde lidwoord die gebruik.
* beskonke – die mees beskonke
* verleë – die mees verleë

Opmerking:
a) Hierdie reël geld slegs by byvoeglike naamwoorde waarvan die grondwoord op e eindig en nie by byvoeglike naamwoorde wat attributief gebruik word en daarom ʼn attributiewe -e gekry het nie. Die byvoeglike naamwoord oulik in die oulike klein hondjie se oortreffende trap is die oulikste en nie die mees oulike
b) Die oortreffende trap van byvoeglike naamwoorde en bywoorde wat op e eindig, is tradisioneel gevorm met behulp van die agtervoegsel -nste. Gevalle soos die godvergetenste (teenoor die gebruikliker die mees godvergete) en die omstredenste (teenoor die gebruikliker die mees omstrede) moet daarom nie as ʼn fout beskou word nie.

Dié inligting is oorspronklik gepubliseer in die nuwe Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (11de omvattend herbewerkte uitgawe)
Uitgewer: Pharos
Prys: R450-00*
Koop die boek nou by Graffiti Boeke vir slegs R360-00*
*Prys onderhewig aan verandering


Hoe klink jóú Afrikaans?

$
0
0

Argieffoto (Foto: Kidaha, Pixabay)

Die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA), in samewerking met Afrikaans.com, wil graag Afrikaans se ryke verskeidenheid en kleurvolheid aan die wêreld laat hoor.

Jy kan nou ʼn kort storie van 120 woorde voorlees en die opname dan aanlyn op ʼn wêreldkaart aandui, sodat mense kan hoor hoe Afrikaans in verskillende dele van die land en wêreld klink.

Die data sal ook gratis aan navorsers beskikbaar gemaak word om navorsing te doen oor Afrikaanse uitspraak.

Die storie wat voorgelees word, is Die noordewind en die son, ʼn bekende fabel van die Griekse wysgeer Esopus. “Die les van die storie is dat ʼn mens meer kan bereik sonder geweld. Die noordewind en die son word wêreldwyd as ʼn standaard teks gebruik vir vergelykende studies oor tale,” verduidelik VivA waarom dié verhaal gekies is. “Dié storie is ook al voorheen gebruik vir navorsing oor Afrikaanse uitspraak. Die teks is so vertaal en saamgestel om alle Afrikaanse klanke te bevat.”

Die noordewind en die son (‘n fabel deur Esopus)

Op ʼn keer het Noordewind en Son stry gekry oor wie van hulle nou eintlik die sterkste was.

Net toe kom daar ʼn reisiger verby, toegehul in ʼn lekker warm jas. Hulle besluit toe dat dié een wat dit kan regkry om die reisiger te dwing om sy jas uit te trek, die sterkste is.

Toe blaas Noordewind ure lank vir al wat hy werd is. Maar hoe harder hy blaas, hoe stywer knoop die reisiger die baadjie om hom vas. Uiteindelik laat Noordewind al sy pogings vaar.

Toe dit Son se beurt is, skyn hy gloeiend, en dadelik trek die reisiger sy jas uit.

En so moes Noordewind erken dat Son wel die sterkste van hulle twee was.

Hoe laai jy jou voorlesing op?

  • Besoek die Spraakatlas op VivA se webwerf.
  • Navigeer na jou blyplek op die kaart.
  • Jou merker word outomaties effens (met ʼn paar kilometer) verskuif sodat jou presiese woonplek nie aangedui word nie.
  • Klik op die ikon van die swart mikrofoon.
  • Vul die kort vraelys in (jou naam en van word nie bekendgemaak nie, dit word slegs in die vraelys gebruik om tussen verskillende klanklêers te kan onderskei) en gee toestemming dat VivA jou klankopname mag vrystel vir ander mense om na te luister, asook vir navorsingsdoeleindes.
  • Lees die storie Die noordewind en die son voor terwyl dit opgeneem word.
  • Laai jou opname op deur op die “stuur”-knoppie te klik.

Taalgebruik: Metrieke simbole

$
0
0

Argieffoto (Foto: bricoydeco, Pixabay)

Taaltoffie ondersoek die gebruik van metrieke simbole in Afrikaans.

Indien ʼn getal voor ʼn SI-simbool geskryf word, word ʼn spasie tussen die getal en die simbool gelaat.

Korrek:
160 mm
50 kg
30 Mw

Verkeerd:
*160mm
*50kg
*30Mw

Opmerking: Dit is ʼn wetlike voorskrif

Indien ʼn kombinasie van ʼn getal en ʼn SI-simbool met ʼn ander woord verbind, word die spasie tussen die getal en die simbool behou.

5 °C-styging
50 kg-sakke (sakke van 50 kg elk)
1 499 cm³-enjin
15 A-sekering

3,5 m materiaal
750 ml koeldrank
1 360 km² grond
320 Nm wringkrag

Dié inligting is oorspronklik gepubliseer in die nuwe Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (11de omvattend herbewerkte uitgawe)
Uitgewer: Pharos
Prys: R450-00*
Koop die boek nou by Graffiti Boeke vir slegs R360-00*
*Prys onderhewig aan verandering

Afrikaanse SkryfGoed steeds ʼn gunsteling

$
0
0

“Ek wil regtig nie meer aan ’n Afrikaanse teks werk sonder my SkryfGoed nie.” So skryf Tom McLachlan, voorsitter van die Afrikaanse Taalkommissie. Tom is, nes vele Suid-Afrikaanse skrywers, akademici en sakelui, ʼn getroue gebruiker van CTexT1 (NWU-Pukke) se immergewilde Afrikaanse SkryfGoed. Hy sal daarom bly wees dat Afrikaanse SkryfGoed 5 pas die lig gesien het en nou volledig met Microsoft® Office 2016 en Windows 10 versoenbaar is.

Afrikaanse SkryfGoed 5 is ʼn versameling van vier skryfhulpmiddels vir Microsoft Office en sluit in:
– Afrikaanse Speltoetser
– Afrikaanse Grammatikatoetser
– Afrikaanse Tesourus
– Afrikaanse Woordafbreker

Een van die redes waarom Tom nie sonder Afrikaanse SkryfGoed wil werk nie, is omdat die Grammatikatoetser hom “…meermale help om glipse wat hy weens skryfhaas maak, betyds raak te sien”. Die Woordafbreker breek woorde op die regte plekke af na ʼn volgende reël.

Volgens prof Franci Greyling (skrywer en dosent in Skryfkuns) is die Afrikaanse Speltoetser ʼn nuttige manier om spel- en tikfoute vinnig raak te sien. Sy gebruik verder graag die Afrikaanse Tesourus om alternatiewe vir geykte woorde in haar skryfwerk te soek.

Die Grammatikatoetser en Tesourus is enig in hul soort in Afrikaans vir Microsoft Office, en die Speltoetser is die enigste sogenaamde tweedegenerasiespeltoetser wat tans vir Afrikaans bestaan. Dit beteken dat die nuutste tegnologie en gevorderde prosessering gebruik word om beter resultate te lewer. Dit word gereeld bygewerk om by die nuutste spelreëls en ontwikkelinge in Afrikaans aan te pas.

“Ek is een van die getroue volgelinge en ondersteuners van Afrikaanse SkryfGoed,” skryf prof Wannie Carstens, voorsitter van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns. “Ek kan my amper nie ʼn tyd indink dat ek daarsonder moes klaarkom nie! Ek gebruik alle funksies. Die Speltoetser is veral besonder waardevol omdat dit gou my tikfoute uitwys,”

Die spiksplinternuwe Afrikaanse SkryfGoed 5 is nou op www.spel.co.za beskikbaar, of stuur ʼn e-pos na verkope@spel.co.za. BlueTek (018 297 0164) kan help met enige navrae, bestellings of tegniese ondersteuning.
Prys: R329.99 (BTW ingesluit)

Minimum sisteemvereistes
ʼn Volledig operasionele rekenaar (“PC”) met:
Microsoft® Office 2007, Microsoft® Office 2010, Microsoft® Office 2013 of Microsoft® Office 2016; en Windows® Vista, Windows® 7, Windows® 8 of Windows® 10

Taalgebruik: marine, mariene

$
0
0

Mariene plante (Foto: pexels, Pixabay)

Dié woordpaar gee heel dikwels probleme, en as ’n mens kyk na hoe dit in standaardbronne opgeteken is, is dit ook nie verbasend nie. Die feit dat albei in Engels dieselfde gespel word, help ook nie juis nie.

Die maklikste is om te onthou dat mariene ’n byvoeglike naamwoord is wat “met betrekking tot die see” beteken, en omdat dit ’n byvoeglike naamwoord is, word hy los ge­skryf van die selfstandige naamwoord wat hy bepaal, byvoorbeeld mariene lewe, mariene organisme, mariene biologie en so meer. Dikwels kan mariene ook deur see= vervang word, byvoorbeeld mariene reservaat xseereservaat, mariene plant x seeplant, mariene pypleiding x seepypleiding. ’n Eselsbrug is dalk dat mariene twee e’s bevat, soos see.

Daarenteen het die selfstandige naamwoord marine met skepe en skeepvaart te doen. Die marine is “die (handels)vloot”. Om­dat marine ’n selfstandige naamwoord is, word hy vas geskryf aan die selfstandige naamwoord wat hy bepaal, byvoorbeeld marine­offisier, marine-ingenieurswese, marinetoerus­ting. ’n Eselsbrug is dalk die alleenstaande i soos in skip.

Woord: marine (militêr, weinig gebruiklik)
Betekenis:
seemag

Woord: mariene
Betekenis:

1 Van of eie aan die see, of wat daarvan afkomstig is, daarin voorkom, of daardeur gevorm of omring word: Mariene bronne, eilande, ekosisteme, fauna en flora, gebiede, sand en klei. ‘n Mariene habitat, klimaat, kusvlakte, omgewing. Mariene en atmosferiese omgewings.
2 Van of met betrekking tot die see of seelewe, veral wat betref die bestudering, bewaring of instandhouding daarvan: Mariene bewaring, geologie.
3 Wat verband hou met skeepvaart of maritieme aangeleenthede, of wat gebruik word ter see, of aangepas of spesiaal ontwerp is vir gebruik ter see: ‘n Mariene barometer, kompas.

BRON: Hierdie taalbrokkie is oorspronklik gepubliseer in die HAT Taalgids, beskikbaar op VivA Afrikaans.

Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT) 6
Redakteurs: Jana Luther, Fred Pheiffer, Rufus H. Gouws
Uitgewer: Pearson
Prys: R490-00*
*Prys onderhewig aan verandering

Taalgebruik: Meervoudsvorme en hul afkortings

$
0
0
Hoe word meervoudsvorme afgekort? Taaltoffie stel ondersoek in.
Viewing all 411 articles
Browse latest View live